Amper 29 dae nadat Kobus Cronje (58) dood is, lê sy lyk nog in die staatslykhuis van die Tygerberg-hospitaal terwyl sy vrou, Nina, hom ’n waardige begrafnis wil gee.
Maar die forensiese patologiediens van die Wes-Kaapse departement van gesondheid wag vir mediese verslae van die laaste hospitaal waar Cronje behandel is, sê Robert Daniels, ’n woordvoerder van die departement.
Cronje, van Hermanus, was op 10 September in ’n ernstige motorfietsongeluk. Hy is aanvanklik in die MediClinic Vergelegen-hospitaal opgeneem, waar hy verskeie operasies ondergaan het. Hy is van daar af na die Busamed Paardevlei-hospitaal oorgeplaas, waar hy nog operasies moes ondergaan.
Op 13 September het hy ’n bloedklont ontwikkel en is hy in die hospitaal dood.
Daniels sê Cronje se lyk is eers tien dae ná sy dood na die forensiese patologiediens verwys. Dié afdeling het ’n groot werklas, maar dit is volgens hom nie die enigste rede hoekom daar nog nie ’n lykskouing gehou is nie.