Die dodelike longpes wat in Madagaskar uitgebreek het, eis al hoe meer slagoffers met die dodetal wat nou al gestyg het tot 48 – en die Suid-Afrikaanse owerhede is gewaarsku om hier gereed te wees vir enige uitbreking.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sê 449 gevalle van longpes is reeds in Madagaskar bevestig.
Die WGO waarsku daar heers kommer op internasionale vlak daaroor nadat ’n Suid-Afrikaanse basketbalspeler wat ’n klubkampioenskapsreeks bygewoon het, ook aangesteek is. Die speler is in Madagaskar suksesvol behandel en het volgens die WGO na Suid-Afrika teruggekeer. Hy en sy spanmaats word gemonitor.
Daar is geen reisverbod na of van Madagaskar nie.
Die nasionale departement van gesondheid het verskeie maatreëls ingestel, soos om lugrederye te waarsku om op die uitkyk te wees vir siek mense op vlugte.
Amptenare by Suid-Afrikaanse hawens is gevra om hul prosesse op te skerp om mense wat in die land aankom, behoorlik te ondersoek.