Daar is meer as 4 000 vakatures by Gautengse staatshospitale in kritiek belangrike poste soos dié van spesialiste, aptekers, dokters en verpleegkundiges.
Dié situasie het aan die lig gekom in die jaarverslag van die Gautengse departement van gesondheid wat onlangs in die provinsiale raad ter tafel gelê is, sê Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid.
Uit dié verslag blyk dit daar is net 40 316 opgeleide personeellede in diens uit die 44 558 goedgekeurde poste, wat op ’n tekort van 4 242 mense in kritiek belangrike poste dui.
Bloom sê die situasie word vererger omdat hospitale selfs met die goedgekeurde getal poste sukkel om oor die weg te kom, want daar is net al hoe meer pasiënte.
Die party doen ’n beroep op die departement om kritieke poste te vul wat dringend nodig is om die onderliggende bestuurs- en begrotingsprobleme op te los.
Hy is veral bekommerd oor die hoë omset van aptekers (54%), dokters (46%) en spesialiste (18%).