Kankerondersoeke se koste kan styg ná Pelindaba-probleme

Pelindaba se vervaardigingsaanleg van radioaktiewe produkte vir mediese gebruik is steeds nie in bedryf nie nadat dit twee ­weke gelede weens ’n probleem met die waterstofreguleringstelsel gesluit is.

Daarom word alle radioaktiewe molibdeen- en jodiumprodukte wat in die diagnose en behandeling van kanker en ander siektetoestande gebruik word, van die buiteland af ingevoer.

Die prys van die generators wat dié ingevoerde produkte aktief hou, is dubbel wat dit voorheen was, sê dr. Lizette Louw, president van die SA Vereniging van Kerngeneeskundiges.

Die verhoogde invoerkoste kan op langtermyn ’n sneeubaleffek op staatsdepartemente se begrotings hê. Dié begrotings word vooruit vasgestel en die gevolg van die hoër koste kan wees dat die begrotings vinniger uitgeput raak.

Groot mediese fondse het kerngeneeskundiges wel verseker dat die verhoogde en onverwagte uitgawes “binne perke” geabsorbeer sal word.

As die onderbreking in die plaaslike vervaardiging egter voortduur, kan dit die koste per kankerondersoek met tussen R1 000 en R1 500 verhoog, sê Louw.

Linet Coetzer, ’n kerngeneeskundige van Welkom, sê waar sy vroeër sowat R6 800 vir die kleinste generator en isotope betaal het, kos dit nou R12 000.

Intussen is dit nie duidelik presies wat by die vervaardigingsaanleg, Nuclear Technical Products (NTP), skeefgeloop het en wanneer die aanleg weer in produksie sal wees nie.

NTP is besig om sy produksieprosesse te hersien om te bepaal waar die probleem ingesluip het.

Thiagan Pather, bestuurder van kernafval by die Nasionale Kernreguleerder (NKR), het dié week aan Business Day gesê die voorlopige ondersoek dui op verskeie gebreke in NTP se prosesse.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!