Familie word van bakpoort na stuurpoort gestuur by Steve Biko Hospitaal na seun se ongeluk

Die Steve Biko Akademiese Hospitaal is weereens onder die vergrootglas geplaas nadat nog klagtes na vore gekom het.

’n Familie van die Moot sê die hospitaal was nalatig nadat ’n geliefde verlede Woensdag in die hospitaal opgeneem is.

Jayden Pieterse (27) is in die hospitaal opgeneem nadat hy in ’n verskeersongeluk betrokke was.

Die ongeluk het omstreeks 07:00 op die hoek van 14e Laan en Ellastraat gebeur.

“Jayden het ’n motorfiets bestuur,” sê familielid, Susan Andrews.

“Volgens ooggetuies, het ’n kar teen ’n hoë spoed om die draai gekom. Die twee is toe in mekaar in.”
Na die ongeluk is Pieterse in die hospitaal opgeneem, waar hy twee dae in ongevalle spandeer het.

“Die hospitaal het Vrydag gesê hulle gaan op Jayden moet opereer om penne in sy (regter)been te sit,” sê Andrews.
“Hy is toe na ’n teatersaal geskuif vir hierdie operasie.”

Jayden Pieterse lê al van verlede Woensdag in die hospitaal en wag dat daar op sy been geopereer moet word.

Andrews sê sedert Vrydag sê personeel vir Pieterse hy mag nie iets eet nie as voorbereiding vir die operasie.
“Van Vrydag af bring hulle een oomblik vir hom kos en die ander oomblik sê hulle hy mag glad nie eet nie,” sê sy.

“Ons het by die operasieteater gaan navraag doen en hulle weet nie eens van sy operasie nie.”

Andrews sê sy is bekommerd oor Pieterse se toestand.

“Die hospitaal het sy been gespalk, maar die verpleegsters laat hom rondloop op sy been wat gebreek is,” sê sy.
“Sy been is vreeslik geswel en begin ook te stink.”

Andrews sê sy soek antwoorde.
“Hy kan nie langer so lê nie. Iets moet gedoen word,” sê sy.
Die hospitaal kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie

Deur: Journalis Kayla van Petegem/Rekord Moot


Enjoyed this post? Share it!