Departement sloer met plasings vir gesondheidspraktisyns

Solidariteit het vandag in ʼn skrywe beide die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, en die departement van gesondheid op terme geplaas om te voldoen aan hul statutêre verpligtinge om gemeenskapspraktisyns vir hul verpligte gemeenskapsdiensjaar te plaas.

Dit volg nadat Solidariteit verskeie klagtes van sy lede en van die publiek ontvang het dat daar steeds ʼn groot aantal gesondheidspraktisyns is wat nog nie deur die departement van gesondheid geplaas is nie. Die klagtes sluit onder meer in dat van die praktisyns wat wel geplaas is, se plasing terug getrek is. “Dit het ook aan die lig gekom dat die departement nog nie eers met die tweede ronde van plasings van niebeurshouers begin het nie,” het Anton van der Bijl, die hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, gesê.

Volgens Van der Bijl blyk die departement se versuim om studente te plaas, die nuwe norm te wees. “Solidariteit het vroeër vanjaar sukses in die hof behaal om die departement van gesondheid te verplig om Dane Hertz vir haar gemeenskapsdiensjaar te plaas. Dit is egter duidelik dat die departement en die minister van gesondheid hulle min steur aan die gesondheidspraktisyns, terwyl wyd en suid verkondig word dat ʼn ernstige tekort aan gesondheidspraktisyns ervaar word,” het Van der Bijl gesê.

Volgens Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van die professionele bedryf by Solidariteit, is die vakbond is tans besig om die situasie te monitor. “Die huidige situasie is onaanvaarbaar en ons sal nie huiwer om ons weer tot die howe te wend indien daar nie ernstige ingrypings plaasvind nie,” het Botha gesê.

Gesondheidspraktisyns wat probleme met hul plasing vir gemeenskapsdiens ervaar, kan hul klagte by plasing@solidariteit.co.za aanmeld om kommunikasie te ontvang en ingesluit te word by ʼn kollektiewe proses om die departement te dwing om sy statutêre plig na te kom.


Enjoyed this post? Share it!