Vrystaatse gesondheidsdepartement stort in duie na top spesialiste bedank

Gesondheidsorg in die Vrystaat steier steeds onder die voortdurende eksodus van sy topmedici. Pas het nog twee van die provinsie se voorste spesialiste, prof. Schalk Wentzel (55) by urologie en dr. Maryke Spruit (55) by kritieke sorg, bedank.

Dr. Freek Bester, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging se sentrale tak, sê om die ervaring van die topspesialiste wat die afgelope jaar en ’n half geloop het te probeer ­terugwen, gaan moeilik wees.

“Dit kan tot tien jaar neem om nuwelinge aan te stel en hulle weer op dieselfde gehaltevlak te bring nadat die institusionele geheue verlore gegaan het.

“Die bedankings veroorsaak dat pasiënte wat toenemend nie meer mediese fondse kan bekostig nie aan die lot van onbekwame dokters met swak opleiding en min ervaring blootgestel gaan word.”

Die akademiese platforms by die Universitas- en die Pelonomi-hospitaal, waar mediese studente aan die Universiteit van die Vrystaat opleiding ontvang, se toekoms word erg bedreig, sê Bester.

Hy reken “daar is iets verkeerds met die manier waarop dié hoogs gekwalifiseerde spe­sialiste wat met groot moeite vervang gaan word, bestuur word”.

Dr. Leon Wagner, afgetrede patoloog, sê die Universitas- akademiese hospitaal is niks anders nie as “ ’n wit gepleisterde graf as dit vergelyk word met die opleidingshospitaal wat dit eens was”.

Hy sê die ontplooiing van onbevoegde kaders is daarvoor verantwoordelik dat die Vrystaatse gesondheidsdepartement in duie stort.

“Pasiënte en belastingbetalers ly omdat die Vrystaatse gesondheidsorg ’n veer vir hulle voel. Dokters is genoop om met onvoldoende­ apparatuur en toerusting gesondheidsorg te lewer.”

Hy sê wat verder kommer wek, is dat die gemiddelde ouderdomme van spesialiste sowat 58 jaar is. “Wat as daardie generasie uitsterf?”

Wentzel, ’n spesialis van die Vrystaatse gesondheidsdepartement en die afgelope 14 jaar hoof van die departement urologie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het Donderdag bevestig dat hy ook bedank het en so ook Spruit, ’n spesialis en hoof van die departement kritieke sorg by die Universitas- en die Pelonomi-hospitaal.

Wentzel word as een van die topuroloë in die land bestempel.

Dit volg kort op die hakke van prof. Coert de Vries, hoof van die departement radiologie aan die UV en hoofradioloog van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, oor wie se bedanking vroeër vandeesweek berig is. Hy word ook as ’n topradioloog in die land bestempel.

In Mei verlede jaar het prof. Paul Wessels, ’n spesialis en hoogaangeskrewe hoof van die departement obstetrie en ginekologie in die fakulteit gesondheidswetenskappe aan die UV en hoof van ginekologie en obstetrie van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, bedank “omdat die stelsel jou in die steek laat”.

Hy was een van ses spesialiste in ginekologie en obstetrie in die provinsie wat verlede jaar binne die bestek van vyf maande bedank het.

Wentzel sê hy maak einde September klaar en begin op 1 Oktober by die Mediclinic Bloemfontein werk in die plek van prof. Koos Myburgh, wat aftree.
“Dit is vir my ’n verandering van omgewing. Dit is ’n goeie geleentheid wat oor my pad gekom het,” sê hy.

Hy gee te kenne dat daar wel probleme in die Vrystaatse gesondheidsdepartement is “waaroor ek moes veg, maar dit is ’n gesprek vir ’n ander geleentheid”.

Spruit, wat nou na ’n private praktyk gaan, meen geen mens kan onder die werklading uithou nie.

“Vir ses maande was ek die enigste heeltydse konsultant in die departement met een konsultant wat baie gehelp het en ander konsultante wat ook kom help het.”

Van die spesialiste meen daar kan departemente wees wat akkreditasie kan verloor as die regte mense met regte kwalifikasies nie vinnig aangestel word nie.

Akkreditasie bring mee dat kliniese assistente in die betrokke departemente die geskikte opleiding kry om uiteindelik spesialiste te kan word.

As departemente akkreditasie verloor, sal dit beteken dat daardie kliniese assistente by ander hospitale in ander provinsies moet gaan werk om te kan spesialiseer.


Enjoyed this post? Share it!