Vrystaatse gesondheidsdepartement staar R1,5 miljard se regseise in gesig

Die Vrystaatse gesondheidsdepartement word deur R1,5 miljard se regseise in die gesig gestaar en het R300 miljoen se rekeninge aan krediteure wat betaal moet word.

Dit blyk uit die departement se tweede kwartaalverslag wat in die Vrystaatse wetgewer se openbare rekeninge-komitee bespreek is.

Butana Komphela, Vrystaatse LUR vir gesondheid, het voor die komitee gesê sy departement is die bes verbeterde gesondheidsdepartement in die land.

“Ons het ’n ongekwalifiseerde ouditverslag van die ouditeur-generaal gekry, terwyl ons Thabo Mofutsanyana-distrik ’n skoon ouditverslag gekry het. Die situasie met ons agterstallige betalings aan krediteure en onreëlmatige uitgawes het verbeter. Daar is sover net vier onreëlmatige uitgawes vir die 2017-’18-geldjaar van R49 509,55.”

Hy sê ’n nuwe hospitaal word vir Parys beplan, maar die projek is nog in die beplanningsfase.

Komphela sê sowat R38 miljoen is by die bedryf van mobiele klinieke in die aansuiweringsbegroting weggeneem en sekere projekte sal op die langebaan geskuif moet word.

Hy sê dat klinieke en hospitale se medisynevoorraad nou op 85% staan.

Oor die R1,5 miljard se regseise sê hy baie van die eise sal nie in ’n hof kan slaag nie.

Dit help nie ons verpleegsters word verkrag, dokters word in hospitale met messe gesteek en kinders word uit hospitale gesteel nie.

Butana Komphela

Komphela sê dat tien rekenaars uit die Universitas-hospitaal in Bloemfontein gesteel is. Die vermoede bestaan dat personeellede hiervoor verantwoordelik kan wees. Die polisie is nog met hul ondersoek besig.

Hy sê van die 224 Vrystaatse klinieke kwalifiseer 78 in die stadium om “ideale klinieke” genoem te word. Daar gaan hard gewerk word om die ander ook op ’n hoë bedryfsvlak te kry.

Hy sê verbeterde ambulansdienste met vroedvroue is die strewe van die departement.

“Daar moet drie opgeleide personeellede in so ’n ambulans wees. Een persoon wat in noodhulp opgelei is en twee as vroedvroue.”

Komphela het sy kommer uitgespreek omdat nie al die Vrystaatse gesondheidsgeriewe behoorlike sekuriteitsdienste het nie.

“Dit help nie ons verpleegsters word verkrag, dokters word in hospitale met messe gesteek en kinders word uit hospitale gesteel nie.”

Hy sê die departement se grootste uitdaging is om genoeg spesialiste, soos ginekoloë, pediaters, narkotiseurs en kardioloë te kan bekom, omdat dié mense deur die private sektor met beter salarisse weggerokkel word.


Enjoyed this post? Share it!