Vermiste pasiënt se lyk ná 2 weke in hospitaal-dak gekry

Die lyk van ’n pasiënt wat in die Stellenbosch- Provinsiale hospitaal behandeling ontvang het, is in ’n makabere voorval in die dak van die hospitaal gekry nadat hy sowat twee weke terug verdwyn het.

Die man (61), vermoedelik van die Paarl of Stellenbosch, was baie siek en deurmekaar toe hy twee weke gelede spoorloos uit een van die sale van die hospitaal verdwyn het.

Mark van der Heever, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het die voorval bevestig.

Volgens Van der Heever was ’n verpleegster besig om die pasiënt te versorg toe sy skoonmaakmiddels moes gaan haal. Met haar terugkeer in die saal het die man spoorloos verdwyn.

Die hulp van die polisie is ingeroep en daar is oral in die hospitaal en omgewing na die vermiste man gesoek.

Van der Heever sê daar word tans bouwerk aan die hospitaal gedoen en van die boumateriaal was op die perseel. Daar is ook openings deur die plafon na die dak weens die bouwerk.

Ongelukkig was die man baie deurmekaar en het hy op ’n onverklaarbare manier in die dak beland op ’n plek wat moeilik bereikbaar is, het Van der Heever gesê.

Daar is Vrydag op die man se lyk afgekom.

Van der Heever sê die polisie en departement van gesondheid ondersoek die omstandighede rondom die voorval. Ondersteuning word gegee aan die man se familie en verpleegpersoneel van die hospitaal kry ook berading.

Deur: Netwerk24


Enjoyed this post? Share it!