Staatshospitale in SA bloei weens tekort aan medici

Daar is meer as 4 000 vakatures by Gautengse staatshospitale in kritiek belangrike poste soos dié van spesialiste, aptekers, dokters en verpleegkundiges.

Dié situasie het aan die lig gekom in die jaarverslag van die Gautengse departement van gesondheid wat onlangs in die provinsiale raad ter tafel gelê is, sê Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid.

Uit dié verslag blyk dit daar is net 40 316 opgeleide personeellede in diens uit die 44 558 goedgekeurde poste, wat op ’n tekort van 4 242 mense in kritiek belangrike poste dui.

Bloom sê die situasie word vererger omdat hospitale selfs met die goedgekeurde getal poste sukkel om oor die weg te kom, want daar is net al hoe meer pasiënte.

Die party doen ’n beroep op die departement om kritieke poste te vul wat dringend nodig is om die onderliggende bestuurs- en begrotingsprobleme op te los.

Hy is veral bekommerd oor die hoë omset van aptekers (54%), dokters (46%) en spesialiste (18%).

Hy meen ook die verlies aan opgeleide medici kan grootliks toegeskryf word aan swak werkomstandighede en voeg by dat van die poste weens begrotingsprobleme bevries is.

Volgens die DA veroorsaak dit swakker pasiëntesorg, wat kan lei tot duur eise weens mediese nalatigheid.

Die party doen ’n beroep op die departement om kritieke poste te vul wat dringend nodig is om die onderliggende bestuurs- en begrotingsprobleme op te los.

Lesemang Matuka, ’n woordvoerder van die departement, sê die departement sal eers kommentaar kan lewer nadat die getal vakatures uitgeklaar en geverifieer is.

Volgens die verslag is die vakatures as volg:

Studenteverpleegsters: 30,2% (536 poste)
Verpleegkundiges: 11,3 (982 poste)
Stafverpleegsters: 11,9% (405 poste)
Spesialiste: 18,8% (171 poste)
Spesialis-tandartse: 15,4% (25 poste)
Aptekers: 12,7% (61 poste)
Dokters: 10,9% (555 poste)

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!