Skok-voorbeelde van bedrog by mediese fondse aan die lig gekom

Die gesondheidsorgbedryf is in die visier van misdaadsindikate en onderduimse praktisyns.

Dr. Gregory Pratt, mediese adviseur vir forensiese ondersoeke in die gesondheidsbedryf vir Medscheme, het op die beraad vir gesondheidsorgfinansiers in Kaapstad skokkende voorbeelde genoem van bedrog waarmee hy die afgelope maande te make gehad het.

Mediese bedrog is so algemeen “omdat dit makliker gepleeg kan word as ander finansiële misdade,” sê hy oor die sindikate wat die bedryf teiken.

Voorbeelde van bedrog die afgelope maande:

1. ’n Sielkundige wat in net 102 dae R4,3 miljoen geëis het, het glo 173 pasiënte op een dag gespreek.

2. ’n Dermatoloog het R112 000 vir net 67 minute in die teater geëis.

3. ’n Sindikaat van sielkundiges in KwaZulu-Natal wat in twee jaar R80 miljoen (sien regstelling) geëis het van een mediese fonds. Baie van dié eise was vals of erg oordrewe.

4. ’n Sindikaat van aptekers in Soweto wat in drie jaar meer as R100 miljoen geëis het. Dit is ’n geval waar die spesiale ondersoekeenheid betrokke moet raak, meen hy. “Dié sindikaat gaan al te lank aan.”

5. Volgens hom is daar ’n groeiende probleem in die bedryf vir gehoorapparate waar toestelle vir R1 300 gekoop word en teen R12 000 aan mediese fondse verkoop word. “Daar is talle praktisyns wat nie eens die toestel verskaf nie, maar eis en die geld met die pasiënt deel.”

6. In die optometriebedryf koop praktisyns rame teen R50 of R60 en eis van die fonds teen R1 500. “Dit is blatante misbruik en fondse moet dit nie verdra net omdat daar voordeelperke is wat geteiken kan word nie.”

7. In die geestesgesondheidsbedryf is daar ’n “groeiende probleem”. “Hulle buit wetgewing oor voorgeskrewe minimum voordele uit. En ons vind al hoe meer sake waar opnames vals is. Onlangs het ’n pasiënt R10 000 se kontant gekry nadat hy opgeneem is. Die opnames skep die omgewing waar ’n hele klomp praktisyns kan eis.”

Bron: Netwerk24

Skrywer: Nellie Brand-Jonker


Enjoyed this post? Share it!