#PLAASAANVAL: Man Stap 4 Km Vir Hulp Na Noord-Wes Plaasaanval – Derby

‘n Bejaarde wildboer (69) wat die naweek op ‘n plaas buite Derby in Noordwes wreed aangeval en in albei arms gewond is, is gister in ‘n hospitaal geopereer en na wat verneem word, gaan dit onder omstandighede goed met hom.

Voorsitter van die Derby- en Koster-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Leon Prinsloo, sê die 69-jarige Roelf van Wyk bly alleen op die plaas en het Saterdagnag televisie gekyk. Hy het na bewering ‘n deur in die vertrek oopgemaak sodat ‘n koel briesie deur die warm vertrek kan waai.

Prinsloo sê die aanvallers het die huis omgekrap en Van Wyk se bakkiesleutels in die hande gekry. Hulle het onder meer ‘n plasmatelevisie, kruideniersware in koelerbokse en mandjies, asook ‘n yskas met vleis op sy bakkie gelaai.

Hulle het sy bene en arms vasgebind. Die aanvaller het Van Wyk na die kluis in die huis gesleep en hom glo gedwing om die kluis oop te sluit terwyl ‘n panga teen sy keel gehou is. Nadat hy met een hand die kluis kon oopsluit, het Van Wyk glo teruggeveg en in die stuweling is twee skote van ‘n vuurwapen wat die aanvallers glo in die kluis gekry het, afgevuur. Van Wyk is gewond.

Volgens Prinsloo het die aanvallers ‘n gewonde Van Wyk daarna op ‘n bed gegooi en weer herhaaldelik aangerand. Hulle het ook na bewering asyn op hom uitgegooi en probeer om hom aan die brand te steek. Dit is moeilik om te bespeigel waarom asyn gebruik is, die aanvallers het seker gedink dit is ‘n vlambare vloeistof, sê Prinsloo.

Nadat die aanvallers met sy bakkie weggejaag het, het Van Wyk lank gespook om homself los te wikkel. Hy kon nie hulp ontbied nie omdat sy selfoon ook gebuit is en ‘n voertuig wat by die huis gestaan het, se battery is vermoedelik ook deur die booswigte gevat.

Van Wyk het sowat 4km deur die bosse gestrompel tot by ‘n grondpad en ‘n plaashuis om hulp te kry.

Prinsloo, wat naby Van Wyk boer, sê die landelike veiligheidsplan is in werking gestel en ‘n plaaslike boer het selfs in sy private vliegtuig uit die lug na die verdagtes gesoek. Prinsloo het hom na die toneel gehaas. Van Wyk se kinders kon opgespoor word.

Polisiewoordvoerder, Kelebogile Moleko, sê die polisie op Koster soek na drie mans in verband met die voorval. ‘n Klag van poging tot moord en huisroof word ondersoek.

BKA

Enjoyed this post? Share it!