Ma wag op operasie, word ‘vergeet’ in stoorkamer

’n Vrou is woedend nadat haar sieklike ma, wat ’n noodoperasie aan ’n bloeiende maagseer moes ondergaan, ure lank in ’n stoorkamer in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein “vergeet” is.

Desire Nel, ’n administrateur van Johannesburg, sê haar ma, Veronica (59), is Saterdag in die vroeë oggendure van die hospitaal op Odendaalsrus na Pelonomi oorgeplaas.

Veronica, wat op Wesselsbron woon en vir die N.G. Moedergemeente werk, het omstreeks 02:00 by Pelonomi aangekom waar sy in ’n stoorkamer geplaas is omdat daar nie vir haar ’n bed in een van die sale beskikbaar was nie.

“Die bed waarop my ma gelê het was te klein vir haar en haar voete het heeltyd afgeval. ’n Dokter het haar later kom ondersoek en gesê sy moet ’n noodoperasie kry.

“Hulle het ’n hele ruk gevat om vir haar ’n bed te kry en moes iemand skuif. Hulle het toe heeltemal van haar vergeet en eers 18:00 onthou,” sê Nel.

Volgens haar het sy gedurende die lang wag verskeie kere van die personeellede gevra oor wanneer haar ma geopereer word, maar niemand “kon of wou die moeite doen om net ’n foon op te tel nie”.

Sy het toe ’n man by die ontvangs op die vloer waar haar ma gelê het, gevra hoe laat hulle haar ma gaan opereer, maar hy was besig om ’n fliek op die hospitaal se rekenaar te kyk en het nie belanggestel om haar te help nie, sê Nel.

Nel sê sy gaan die aangeleentheid verder neem omdat niemand verdien om in sulke omstandighede in die hospitaal te wees nie.

Nel sê sy moes baklei dat die verpleegsters haar ma na ’n ander kamer skuif en dié kamer was net so vuil.

“Hulle sou my ma nie geopereer het as sy nie ’n bed gehad het nie. Die verpleegsters is baie ongeskik, loop weg as jy met hul praat of ignoreer jou.

“Toe hulle haar uiteindelik kom haal vir die operasie, het hulle gesê: ‘Sorry, we forgot about you.’ My ma was in baie pyn en het die Vrydag laas geëet of iets gedrink,” sê Nel.

Volgens haar was die kamer waarheen sy later geneem is, vuil. In die badkamer was daar ’n gebruikte drup, pleisters vol bloed, ongebruikte medikasie en vuil sanitêre doekies, sê sy.

Nel sê sy gaan die aangeleentheid verder neem omdat niemand verdien om in sulke omstandighede in die hospitaal te wees nie. Dis nie net ’n gesondheidsrisiko vir die pasiënte nie, maar vir die besoekers en personeel ook.

Sy het reeds Woensdag met die hospitaal se bestuur vergader nadat Netwerk24 die Vrystaatse gesondheidsdepartement om kommentaar genader het. Woensdagaand het haar ma nie aandete gekry nie en moes sy weer met die hospitaal se hoof praat.

Die hospitaal sal volgende Donderdag aan haar terugvoering gee

Mondli Mvambi, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê dié soort voorvalle word in ’n ernstige lig beskou en dat mense dit dadelik by die hospitaal se bestuur moet aanmeld sodat dit ondersoek kan word.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!