KPMG-skandaal raak ondersoek na duur medies

Private hospitaalgroepe maak beswaar daarteen dat KPMG die Mededingingskommissie met sy navorsing gehelp het. ’n Kompromis is nou bereik wat die hospitale toegang tot die navorsing gee.

Die KPMG-skandaal pootjie nou ook die markondersoek na die private gesondheidsorg.

Die voorlopige bevindinge van die ondersoek moes die afgelope week bekend gemaak word nadat dit verskeie kere sedert 2015 uitgestel is, maar is op die nippertjie wéér uitgestel tot April 2018.

Dit is volgens die Mededingingskommissie om besware te besweer van onder meer private hospitaalgroepe oor die gehalte van KPMG se ondersoekwerk.

KPMG het as konsultant vir die kommissie gewerk en onder meer ontledings gedoen van die hospitaalgroepe se winsgewendheid.

Dr. Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, het Maandag ná die bekendmaking van die groep se jaarresultate aan Rapport gesê hulle het bedenkinge oor KPMG se betrokkenheid.

Dit kom nadat die firma se betrokkenheid by Gupta-beheerde ondernemings vroeër vanjaar aan die lig gekom het en gelei het tot die vertrek van verskeie topbestuurders. Netcare wou nie verder uitbrei oor hul spesifieke besware nie.

Die ondersoekpaneel sê in sy verklaring hy het met KPMG vergader en is opnuut verseker dat geen van KPMG se werknemers en/of kontrakteurs wat deur die internasionale kantoor ondersoek word, regstreeks of onregstreeks betrokke was by werk wat vir die ondersoek gedoen is nie.

Adv. Clint Oellermann, direkteur van die ondersoek, sê hulle het tog besluit om die partye tegemoet te kom.

Hy sê veral die groot private hospitaalgroepe Netcare, Mediclinic en Life Healthcare meen dis onbillik om die verslag te publiseer sonder dat die relevante ontledings en onderliggende vertroulike data waarop die ondersoek staatmaak, vooraf beskikbaar is.

Hulle sal nou insae kry in die vertroulike inligting waarmee KPMG gewerk het, die geleentheid kry om die inligting te verifieer en met KPMG se personeel te skakel, sê hy.

Dit word volgens hom gedoen om uitgerekte hofsake te vermy. Dit was juis ’n hofsaak van Netcare teen die kommissie en KPMG wat die kommissie se werk in 2014 vertraag het.

Netcare het in ’n hofaansoek gevra KPMG moet verbied word om werk vir die kommissie te doen omdat KPMG hul ouditeur was en Netcare gevrees het die ouditgroep kon vertroulike inligting teen hulle gebruik. Die hofaansoek is met koste van die hand gewys.

Sedertdien was daar al baie vertragings met die ondersoek en die witskrif oor die Nasionale Gesondheidsversekering het verskyn nog voordat die bevindinge bekend is.

Die markondersoek se bevindinge word al lank afgewag omdat dit lig moet werp op waarom private gesondheidsorg so onbekostigbaar vir die meeste Suid-Afrikaners is.

Die onderskeie belangegroepe soos farmaseutiese maatskappye, hospitale, medici en mediese fondse blameer dikwels die ander.

Oellermann sê ten einde voort te gaan met die ondersoek sal ’n reeks analitiese verslae wel teen 8 Desember vir openbare kommentaar gepubliseer word. Dit sal onder meer gaan oor voorgeskrewe minimum voordele, en ontledings oor befondsers, geriewe en praktisyns.


Enjoyed this post? Share it!