Diensjaar: Verpleegster wen hofsaak na regstryd met Gautengse gesondheidsowerheid

“Dit voel of ’n berg van my skouers af is.”

So het ’n verligte en glimlaggende Dané Hertz (22) Dinsdagmiddag gesê ná haar regstryd met die Gautengse gesondheidsowerheid omdat sy nie uitplasing vir haar verpligte gemeenskapsdiensjaar as verpleegster kon kry nie.

Hertz moet luidens ’n bevel van die hooggeregshof in Pretoria binne 30 dae deur dié owerheid uitgeplaas word na die O.R. Tambo-kliniek, waar sy van die begin af wou werk nadat sy as ’n verpleegkundige gekwalifiseer het. Die kliniek is sowat 8 km van haar huis af.

Die vakbond Solidariteit sê hy het namens Hertz ’n aansoek by dié hof ingedien om haar in ’n gemeenskapsdienspos aangestel te kry omdat die gesondheidsdepartement en minister van gesondheid sedert Januarie “versuim het om haar te plaas”.

Solidariteit het die gesondheidsowerheid op 15 Junie dringend versoek om Hertz, wat einde verlede jaar afgestudeer het, binne sewe dae na ’n kliniek uit te plaas.

Hertz sê sy sukkel al sedert 2016 om ’n plasing te kry.

Anton van der Bijl, hoof van die vakbond se sentrum vir billike arbeidspraktyke, sê hoewel die gesondheidsowerheid aangedui het hy gaan die hofaansoek teenstaan, is ’n skikking vandag tussen die partye bereik. Die skikking is ’n hofbevel gemaak.

DIT IS HARTSEER DAT ’N STAATSDEPARTEMENT HOF TOE GENEEM MOET WORD OM HOM TE DWING OM SY WETLIKE PLIGTE UIT TE VOER

Anton van der Bijl, Solidariteit
“Dit is hartseer dat ’n staatsdepartement hof toe geneem moet word om hom te dwing om sy wetlike pligte uit te voer,” sê Van der Bijl.

Dit is die owerheid se plig om Hertz uit te plaas vir gemeenskapsdiens, want as sy dié een jaar verpligte diens nie voltooi nie, kan sy haar nie as ’n professionele verpleegster registreer nie.

Die vakbond het die hof gevra dat die Gautengse gesondheidsdepartement en die minister van gesondheid beveel word om alle nodige stappe te doen om Hertz uit te plaas, terugwerkend tot 1 Junie vanjaar.

Hertz is van Elandsfontein, Kempton Park. Sy het die graad BCur aan die Noordwes-Universiteit behaal.

Sy sê in ’n eedsverklaring voor die hof sy het in Junie 2016 vir haar gemeenskapsdiensjaar se plasing aansoek gedoen.

“Ek het die opsie gehad om in enige drie provinsies van my keuse aansoek te doen. Ek het aansoek gedoen vir plasing in Gauteng, Noordwes en Mpumalanga.”

Hertz sê sy het in alle opsigte aan die voorgeskrewe statutêre vereistes voldoen, spesifiek aan dié van plasing vir gemeenskapsdiens.

Op 12 Oktober het sy ’n e-pos van die span vir internskap en gemeenskapsdiensplasing (bekend as die ICSP-span) ontvang, wat lui dat die plasings gedoen is en dat die besonderhede daarvan op ’n stelsel nagegaan kan word. Daarvolgens is sy na die Thelle Mogoerane-streekshospitaal in Vosloorus, Gauteng, uitgeplaas. Sy het die plasing aanvaar voor die sperdatum op 19 Oktober.

Op 28 November het sy ’n SMS van die ICSP-span ontvang wat sê dat sy aansoek gedoen het vir ’n pos in ’n provinsie waarin sy nie veronderstel was om aansoek te doen nie en dat haar plasing dus afgekeur is. Die SMS het voorts gesê dat die “stelsel die derde ronde van aansoeke binnekort open” en dat sy weer moet aansoek doen.

“Ek ontken dat ek aansoek gedoen het vir ’n pos in ’n provinsie waarin ek nie veronderstel was om aansoek te doen nie,” lui haar verklaring.

Sy het op 29 November ’n e-pos aan die ICSP-span gestuur en gesê sy is nie ’n beurshouer nie en dat sy in drie provinsies om plasing mag aansoek doen.

“Ek het hulle ingelig dat ek plasing ontvang het by my vierde keuse, Vosloorus, en dat ek reeds ’n huurooreenkoms (vir verblyf) in die gebied gesluit het. Ek het geen reaksie op dié e-pos ontvang nie.”

Daarna is e-posse heen en weer gestuur.

Die ICSP het op 1 Desember in ’n e-pos aan haar gesê die rede vir die afkeuring van haar plasing, is dat beurshouers nie geplaas word in die provinsies waarin hulle die beurse ontvang het nie.

“Gevolglik moes hulle my weer plaas.”

Sy het om poste aansoek gedoen in die derde ronde van plasing, maar het geen terugvoering van die ICSP in Desember gekry nie.

Hierna het Hertz weer talle e-posse oor die saak gestuur. Omdat sy nêrens kon kom nie, is sy finansieel uitgeput gelaat.

Haar prokureur het op 14 Junie vanjaar aan die gesondheidsowerheid geskryf Hertz was in “konstante kontak” met die relevante amptenare oor haar plasing en dat sy toe reeds ses maande van moontlike pensioendraende inkomste verloor het weens die weiering en/of versuim deur die betrokke owerheid om haar uit te plaas.

Van der Bijl sê Solidariteit meen dié oorwinning vir Hertz “het die sluise oopgemaak” vir hofaansoeke deur dokters en verpleegsters wat sukkel om plasing vir hul gemeenskapsdiens te kry.

Bron: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!