Baba dood na swak diens in staatshospitaal – Nuwe ma ontneem van haar geluk

‘n Bronkhorstspruit ma, Priscilla Fuhri (39), is ontneem van haar geluk toe sy moes toekyk hoe haar pasgebore baba dogtertjie voor haar oë versmoor en tot sterwe kom as gevolg van nalatigheid by ’n mediese regerings instansie.

Priscilla het op Maandag, 11 September in kraam gegaan. Sy was teen die tyd net ses maande en ’n week swanger. Sy moes as gevolg van komlikasies, op vier en ’n half maande gaan vir steke in haar baarmoeder. Die rede hiervoor was dat haar baarmoeder te klein is en die steke verhoed dat die baarmoeder skeur wat ‘n vroeë kraam belemmer.

Om ongeveer 16h00 die Maandag het Priscilla abnormale voorgeboorte tekens gewys soos bloeding en vererge kraampyne. “Dit het groot kommer gewek” sê sy. Sy is deur ’n barmhartige Samaritaan na die Bronkhorstspruit Hospitaal geneem. Daar aangekom is sy op ‘n drup geplaas. Sy is toe per ambulans na ’n Staatshospitaal vervoer.

Daar aangekom is Priscilla direk ongevalle toe. “’n Paar dokters en spesialiste het by my kom inloer en een het selfs ’n sonar gedoen” vertel sy. Alles het volgens die sonar in orde gelyk. Haar steke is sonder verdowing uitgesny. Om 22h00 is sy na die geboortesaal geneem. Daar is sy op ‘n bed geplaas en klaarblyklik so gelos sonder sorg. Die volgende oggend om 01h00 het sy die klokkie gedruk nadat sy gevoel het iets is nie pluis nie. Sy het op haar hardste geskree dat iemand ’n suster moet roep omrede sy dink die kleintjie oppad is. Om 04h10 het haar water gebreek.

Priscilla het knaend die klokkie gedruk en om hulp geroep. Haar hulpkreet het op dowe ore geval. Toe Priscilla na ’n paar minute haarself kon kry om regop te sit kon sy self haar baba dogtertjie se bene gesien. Sy het weer probeer om ’n suster in die hande te kry. ’n Persoon aan diens het toe intussen opgedaag. “Die suster het vir my gesê sy sal iemand kry om my te help. Sy het my ook meegedeel dat die een suster slaap en die ander een besig is op haar foon” vertel sy terwyl die trane by haar wang afrol.

’n Pasiënt wat langs Priscilla gelê het, het opgestaan en die kleintjie met die hoek van die deurweekte, bebloede laken toegegooi. Sy het Priscilla ook geluk gewens en haar ingelig dat ’n baba dogtertjie gebore is. Vyftien minute nadat die ander suster geloop het, het ’n suster daar aangekom en gesien dat die dogtertjie, toe genoem Kylie Mckenzie Oberholtzer, nog lewe. Direk daarna het ’n suster daarna inkom en het sy aan Priscilla gesê dat haar babatjie dood gebore is.

“Op die stadium was my kleine Kylie al dood”. Snikkend vertel Priscilla verder van die gebeure. “My woorde aan die suster was dat sy dood sal wees aangesien niemand haar kom help het nie”. Die suster het toe volgens Priscilla ’n stomp skêr gevat en die naelstring probeer afsny. “Sy het dit meer afgesaag as wat sy dit gesny het”. Die suster het vir Kylie gevat en probeer om haar suurstof te gee sonder enige sukses.

Priscilla se man het om ongeveer 05h00 die hospitaal geskakel nadat hy gedurende die proses toegang tot die saal geweier is. Die suster wat die foon opgetel het, het aan hom gesê dat beide ma en die kindjie perfek is. Om 06h00 het Priscilla genoeg moed bymekaar geskraap om haar verloofde te bel en hom in te lig van die tragiese gebeure. Priscilla was gemaan om ‘n vorm te teken. Blykbaar was dit vir toestemming om Kylie se liggaampie te laat veras.

“Ek was baie deurmekaar en bitter ontsteld so ek was nie konstant bewus van wat om my aangaan nie”.

Om 14h00 dieselfde middag het sy aanspraak gemaak op Kylie se liggaampie aangesien sy haar wil begrawe. Die suster het haar meegedeel dat sy eers moet gaan uitvind of die lykie nie reeds vernietig is nie. Om 15h00 het die suster teruggekom en haar ingelig dat Kylie se liggampie nog in ʼn ander vertrek lê. Sy het toe haar man en dogter onder in die hospitaal gekry waar hulle gewag het om Kylie se liggaampie te sien. Teen 16h00 was die liggaam steeds nie beskikbaar nie omrede sy steeds in die babasaal gelê het.

“Hulle het my kind met geen respek hanteer nie, sy was in die babasaal net op ‘n bedjie gesit vandat hulle haar van my af weggeneem het”.

“Ek het baie gebloei tydens ek gekraam het. Ek is ’n baie skaars bloedgroep (O-). Ek kon self soos my kind gesterf het aangesien daar geen hulp was vir beide van ons nie”. Die suster het klaarblyklik heeltyd probeer om Priscilla te oortuig dat haar dogtertjie stil gebore was. “Ek, sowel as die pasiënt langs my, asook die eerste suster wat kom inloer het weet dat Kylie nie dood gebore was nie en dat sy wel gelewe het, al was dit net vir vyf minute. Sy het baie sterk beweeg en as iemand op my hulpkreet gereageer het was daar dalk ’n kans dat sy wel kon gelewe het”.

Volgens die ma het die volgende gebeur: toe die laaste suster ingekom het, wat die slegte nuus gedeel het, het sy ook vir die ander suster en pasiënt na bewering aangeraai om eerder niks oor die voorval te noem nie.
Priscilla en die pasiënt het aanhoudend vir die suster gesê dat Kylie wel gelewe het maar die suster het net gereageer deur te sê dat sy dood gebore is. “Sien jy die kleintjie is dood, sien jy die kleintjie is dood” is wat die suster gesê het.

“Ek het daar gesit en hulpeloos gevoel. Ek moes toekyk hoe my kind dood smoor en ek kon niks daaromtrent doen nie. Ek wou op ’n stadium haar optel en lug in haar longe probeer kry maar ek was so bang dat ek die situasie vererger” vertel sy huilend”. Ek wil nie geld hê of enige iets nie. Ek wil net hê iemand moet boet en verantwoording aanvaar. My kind het nog gelewe en ek weet dit”.

Kylie is op Vrydag, 22 September in Johannesburg tot ruste gelê.

Streeknuus sal die saak verder opneem met die Departement van Gesondheid om hul sodoende die geleentheid te gee om hulle kant van die saak te stel.

Artikel verkry deur BKA-blad


Enjoyed this post? Share it!